Culture - Music
Musiek word met reg beskou as een van die uitvoerprodukte van HMS - sekerlik omdat HMS oor baie talentvolle leerders, en 'n toegewyde en entoesiastiese musiekpersoneel beskik. Die personeel bestaan tans uit twee voltydse en ses deeltydse opvoeders wat onderrig bied in klavier, dwarsfluit, viool, orrel, sang en kitaar. Onderrig in ander instrumente kan by die Frank Pietersen Musieksentrum ontvang word.
Die skool het 4 kore, naamlik 'n koor in die grondslagfase, 'n senior primêre koor, 'n kamerkoor en groter hoërskoolkoor. Die skool het reeds bekendheid verwerf vir die hoë standaard van die kore wat gereeld pryse op Eisteddfods verower. Eweneens is die skool se ensembles groepe wat gereeld optree, ook bekend vanweë die hoë standaard wat hulle handhaaf. Ons skool beskik oor ‘n instrumentale ensemble bestaande uit strykers, houtblasers en ‘n saksofoon wat gereeld oefen en optree en ook spesiale luister verleen aan saalbyeenkomste en prysuitdelings. Hierdie ensemble dien as inspirasie vir ons laerskoolmusiekleerders wat ook met groot geesdrif in hulle ie laerskoolensemble speel.
Hoër Meisieskool Paarl bring elke jaar 'n produksie op die planke. Gedurende 2007 is die operette “Aspoestertjie” deur ons laerskoolleerders opgevoer. In 2008 word ‘n Revue saam met Hoër Jongenskool Paarl aangedurf en in Augustus opgevoer.
Musiek en koorsang is sinoniem met Hoër Meisieskool - daarvan getuig die optredes van ons kore en musiekleerders by funksies, spesiale geleenthede en eredienste regdeur die jaar. Die akademiese jaar word op 'n plegtige, dog opwindende en jubelende noot afgesluit met ons Kerssangprogram kort voor die aanvang van die eindeksamen. Voorwaar 'n dankbare getuienis van vele talente en seëninge wat net van 'n Hoër Hand kan kom.
